This page uses content from Wikipedia and is licensed under CC BY-SA.

Eitemal

Eitemal, oftewel prof. dr. W.J. Du P. Erlank.
Eitemal het in 1945 ingestaan as model vir die gewonde voortrekker op die marmerfries van die Voortrekkermonument.[1]

Eitemal (*22 Junie 1901, Wolmaransstad –† 24 Junie 1984, Stellenbosch [2]) is 'n nom de plume vir Wilhelm Jacobus du Plooy Erlank, 'n Afrikaanse skrywer, digter, redenaar en vertaler. Hy was 'n professor in Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch en kultuurattaché van die Suid-Afrikaanse ambassade in Nederland.[3] Hy is ook die skrywer van 'n gedig wat later aangepas en getoonset is om die bekende volkslied, Lied van Jong Suid-Afrika te vorm. Die woorde van die lied lui: "En hoor jy die magtige dreuning? Oor die veld kom dit wyd gesweef, die lied van 'n volk se ontwaking, wat harte laat sidder en beef."

Lewe en werk

Vroeë lewe en herkoms

Willem Jacobus du Plooy Erlank is op 22 Junie 1901 op die plaas Uitkyk in die distrik Wolmaransstad gebore. Hy is die middelste kind en tweede seun van Andries Gustav Stephanus Erlank en Anna Margaretha Louisa du Plooy en het ook ’n jonger suster.[2] Sewe maande na sy geboorte word die plaashuis tydens die Anglo-Boereoorlog afgebrand en word hy saam met sy moeder, broer, grootmoeder en tante na ’n konsentrasiekamp by Klerksdorp geneem en daarvandaan in oop trokke na ’n ander kamp by Pietermaritzburg. In die konsentrasiekamp oorleef hy die gevreesde maagsiekte danksy onwettige sop wat sy ma van vleisekstrak gemaak en die kamp ingesmokkel het. Na die oorlog word hy groot op die familieplaas Uitkyk in die distrik van Wolmaransstad. Reeds as plaasseun kry hy die bynaam Duke, wat al sy goeie vriende in later jare gebruik. Hy en sy broer kry onderrig van ’n goewernante en sy word daarna onderwyseres op die naburige staatsondersteunde plaasskool waar hy later skoolgaan. Sy was ’n mej. Van Zyl en die onderrig was alles in Engels. Later smelt die skool saam met die nuwe laerskool op Wolmaransstad en sy vader word lid van die Skoolkommissie. Die gesin verkoop in hierdie stadium die plaas en verhuis na Wolmaransstad. Daar was nog nie ’n hoërskool op Wolmaransstad nie en hy en sy broer skryf met selfstudie in Engels al hulle vakke vir die junior matriek. So leer hy homself Latyn, Wiskunde en Natuur- en Skeikunde. Wanneer die superintendent van onderwys in die Transvaal, dr. Adamson, van die twee begaafde broers hoor, bied hy vir hulle beurse aan om verder te studeer aan die Engelsmedium Potchefstroom Boys High, waar hy in 1917 matrikuleer en die hoogste punte in sy skool behaal.[4]

Verdere studie

Vanaf 1918 studeer hy verder deur medium Engels aan die Transvaalse Universiteitskollege in Pretoria. Hy beywer hom van vroeg af vir die erkenning en gebruik van Afrikaans, sodat die gesin se huistaal van 1914 Afrikaans word. Op universiteit betoog hy vir die opheffing van Afrikaans tot amptelike onderrigtaal, veral in Sielkunde, maar die Senaat van die universiteit keur dit af, hoewel hulle toelaat dat die studente in Afrikaans eksamen kan skryf. Tydens die griepepidemie van 1918 werk hy deeltyds as verpleër in ’n hospitaal in Pretoria en tydens vakansies in die noodhospitaal op Wolmaransstad, wat tydelik in die plaaslike laerskool ingerig is. In sy tweede jaar in 1919 wen hy die Tielman Roos-prys as beste redenaar op die kampus, waar hy meeding met onder andere Toon van den Heever en J.R.L. van Bruggen. Sy toespraak het gehandel oor The present is the time for reconstruction – socially, politically and ethically. Ook in 1919 moet hy sy studies tydelik staak omdat hy ’n Union Jack wat op die universiteitsterrein gehys is na die suksesvolle vredesonderhandelings aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog, afhaal en verbrand. Hy word vir ses weke geskors as gevolg hiervan en verbeur ook sy studiebeurs. Hy behaal steeds die B.A.-graad in 1920 met lof met Hollands, Engels, Latyn, Grieks en Wiskunde as vakke. Dit is veral sy studie in Latyn waarin hy opgaan en hy vertaal op eie inisiatief ’n keuse uit die werk van Tibullus, Catullus en Horatius in Engelse verse, terwyl hy Thomas Gray se gedig Elegy written in a country churchyard in Latyn vertaal.

Loopbaan as onderwyser

Hy gee daarna vanaf 1921 tot 1928 onderwys in Latyn by die Hoërskool Wolmaransstad.[4] In hierdie tyd tree hy op as redenaar by verskeie volksfeeste en rig ook die skool se eerste rugbyspan af tot twee eindstryde in die Administrateursbekerkompetisie. Vanaf 1929 tot 1935 gee hy Afrikaans aan die Hoër Seunskool Helpmekaar in Johannesburg. Die Transvaalse Onderwysvereniging (TO) versoek hom in 1929 om Jochem van Bruggen op te volg as hoofredakteur van die Christelike Skoolblad. Deur hierdie posisie raak hy outomaties betrokke by taalsake en die bevordering van Afrikaans as onderrigtaal in opposisie met die ander twee onderwysverenigings, die Transvaalse Middelbare Onderwysvereniging (wat neutraal was ten opsigte van taalkwessies) en die Transvaal Teachers Association (wat Engels bevorder het). Oor “Die kulturele betekenis van die volkslied” skryf hy ’n insiggewende artikel in Die Huisgenoot van 29 Januarie 1932. In hierdie tyd behaal hy aan die Universiteit van die Witwatersrand onder C.M. van den Heever die B.A. Honneurs-graad en dien saam met Van den Heever en andere op die bestuur van die Afrikaanse Skrywerskring. Later verwerf hy die M.A.-graad met deeltydse studie aan die Universiteit van Suid-Afrika.

Op 17 Desember 1931 tree hy in die huwelik met Hester Cornelia (Hettie) Visser van Hanover en ’n seun, Willem, word in 1947 uit die huwelik gebore.[2] Eitemal word in 1935 lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns. Vanaf 1936 tot 1938 studeer hy verder onder professor N.A. Donkersloot in die letterkunde aan die Gemeentelijke Universiteit in Amsterdam, Nederland. Sy vrou studeer in hierdie tyd in die Koninklike Toneelschool in spraakproduksie en spraakkorreksie. Hulle keer terug weens die dreigende oorlog en hy promoveer (D.Litt.-graad) in 1939 aan die Universiteit van Pretoria met die proefskrif Slauerhoff en het zoeken naar nieuwe vormbeginselen in de naoorlogse poëzie van Nederland. In 1939 word hy verkies tot die Raad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en dien hierna meermale op kommissies wat moet besluit oor die toekenning van letterkundige pryse.

Loopbaan as akademikus

Vanaf 1939 tot 1949 doseer hy metodiek aan die Normaalkollege in Pretoria terwyl hy ook resensies en artikels oor die letterkunde skryf en dramas vertaal of bewerk vir opvoering deur studente. Terwyl hy hier werk, woon hy op ’n plasie naby Lyttelton, waar hy met beeste boer. Hy beklee vanaf 1950 tot 1966 die leerstoel in die Nederlandse letterkunde aan die Universiteit van Stellenbosch. In 1952 word hy lid van die Maatschappij der Nederlandse Letterkunde en hy besoek in 1958 België en Nederland as gasspreker. Na sy aftrede word hy vanaf 1967 tot 1971 kultuurattaché vir Suid-Afrika in Den Haag. Die Nederlandse teenkanting teen die apartheidsbeleid is in hierdie tyd so erg dat hy nie een enkele openbare lesing aan ’n universiteit gelewer het nie, omdat die professore dit nie kon waag om hom aan beledigings en ander onaangenaamhede bloot te stel nie. Per geleentheid tree hy wel in meer geslote en kleiner groepe op universiteite op. By sy terugkeer na Suid-Afrika vestig hy hom op Stellenbosch en dien vanaf 1972 tot 1984 as lid van die Kaapse Paneel van die Publikasieraad. In hierdie hoedanigheid is hy gekant teen die verbod op beide “Kennis van die aand” van André P. Brink en “Magersfontein, O Magersfontein!” van Etienne Leroux, terwyl hy die bedankings van T.T. Cloete, Merwe Scholtz en Anna M. Louw uit die Publikasieraad betreur omdat dit die gebalanseerde beheer van ’n vrye letterkunde sou benadeel.

Willem Erlank wat onder die skuilnaam Eitemal skryf

Kultuurstryder

Afgesien van sy werk as skrywer is hy baie aktief op die breër kultuurfront deur sy deelname aan die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) (vir wie se Volksangbundel hy talle bydraes lewer en van watter organisasie hy in 1929 ’n stigterslid is); die Handhawersbond (gestig om die gebruik van Afrikaans onder sy sprekers te bevorder); die Mynwerkersbond; die Spoorbond; die Afrikaanse Skrywerskring; die Voortrekkerbeweging; die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV); die Nasionale Toneelorganisasie; en sy redakteurskap van die Christelike Skoolblad. Vanaf 1929 tot 1935 is hy voorsitter van die Johannesburgse Kunsvereniging (hy is ook stigterslid van hierdie organisasie) en in hierdie hoedanigheid reël hy dikwels sangkompetisies vir solo- en koorsang. Noodgedwonge moet hy dan geskikte musiek vertaal en deurloop so sy leerskool as liriekskrywer.

Hy verwerf veral bekendheid as voortreflike redenaar op volksfeeste en kulturele geleenthede en lewer reeds in 1920 sy eerste Geloftedag-toespraak. Van sy belangrikste openbare optredes is die toesprake wat hy lewer met die inwyding van die Voortrekkermuseum in 1949, die 25e verjaarsdag van die FAK, die 1973 C.J. Langenhoven- gedenklesing en 1975 J.B.M. Hertzog-gedenklesing voor die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, laasgenoemde onder die titel Die verhouding tussen Suid-Afrika en Nederland. Persoonlike indrukke. Pretoria 1975. Op toneelgebied is hy betrokke by die totstandkoming van die Nasionale Toneelorganisasie (NTO) en kort na sy aankoms in Stellenbosch word hy tot die Raad van die NTO benoem. Op Stellenbosch is hy betrokke by die vestiging van ’n outonome Departement van Drama in 1961 en die oprigting van die H.B. Thom-teater in 1966, die vestiging van amateur streekstoneelgroepe in Bellville en Stellenbosch en die uitbouing van Kleurlingtoneel. Na die besluit in 1962 vir die oprigting van streeksrade vir die kunste word hy aangestel as voorsitter van die Tussentydse Toneelraad in die Kaap en dien op die raad van die Kaapse Raad vir Uitvoerende Kunste (KRUIK).

Soms neem hy sterk standpunt in teen wat hy as gevaarpunte in die lewe van die Afrikaner sien. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is hy as Stormjaer lid van die Ossewa-Brandwag en tree by verskeie van hierdie organisasie se vergaderings as spreker op. Hy praat Duits vlot en het ’n groot bewondering gehad vir die Duitse kultuurprestasies in veral die musiek en letterkunde. In September 1942 word hy gearresteer op grond van foutiewe beriggewing in Die Volkstem van ’n toespraak wat hy op 11 September 1942 op die jaarvergadering van die Afrikaanse Kultuurvereniging in die Pretoria stadsaal gemaak het. Voordat die redakteur ’n regstelling kan publiseer word Eitemal volgens die noodregulasies tydens die oorlog gearresteer en eers in die Johannesburgse middestad en daarna vir ’n maand in die Sentrale Gevangenis in Pretoria aangehou, eers in eensame afsondering en later saam met ander gevangenes. Teen die selmure krap hy dan strofes uit Die lied van jong Suid-Afrika uit. Hy word deur advokaat Oswald Pirow verdedig en word vrygelaat wanneer die staat nie hulle saak kan bewys nie. In 1946, voor die besoek van Koning George VI aan Suid-Afrika, publiseer hy die anonieme vlugskrif Die koning! Is hy welkom? Sy lewe lank is hy ’n lojale ondersteuner van die Nasionale Party. Hy is op 24 Junie 1984 in sy huis Sommerhier op Stellenbosch weens longversaking oorlede.[5]

Skryfwerk

Jeuglektuur

Hy publiseer sy werk meestal onder die naam Eitemal, wat ’n gedeeltelike omsetting is van “Lammetjie”, sy bynaam as student. Deur weglating van een “m” en die “j” draai hy die naam om, wat dan Eitemal word.[4] Reeds as plaasseun begin hy Engelse gediggies skryf. Hy debuteer met die kinderboek Stafie en Santie by die Kabouterberg waarin hy sprokieselemente en avontuur vermeng. Stafie en Santie is twee boerekinders wat tot kabouters verklein word en deur die kabouters as koningspaar gekroon word. Dan help hulle die kabouters om hulle vyande, veral die bobbejane, te verslaan.

Poësie

In sy jeugjare skryf hy hoofsaaklik eenvoudige liedjies en gedigte, wat in twee digbundels versamel word. Weerklankies is ’n bonte versameling van gedigte wat hy sedert 1919 skryf en bevat onder andere vaderlandsverse, liefdesgedigte en verse deurspek met eenvoudige natuurtekening, retoriek en sentiment. Die beste gedigte in hierdie bundel is die liefdesvers ’n Cabaretliedjie met sy treffende variasies in die refrein; Barbertonse madeliefies waarin die onskuld van blomme en kinders vergelyk word; Drie toneeltjies wat die verhaal vertel van ’n lewenslustige meisie se lewe; en Weltevrede, waar die kinderspel tot ramp lei.

Phaeton en ander gedigte toon vooruitgang op sy debuut. Die epiese titelgedig is deur Ovidius geïnspireer en gee na aanleiding van die Griekse son-mite ’n simboliese voorstelling van die lotgevalle en ontwikkeling van die digter. Phaeton  oorreed sy vader om die sonwa een keer aan hom toe te vertrou, maar hy kan die wa nie beheer nie en tuimel die afgrond af tot in die water by Eridamus. Hierdie gedig gee blyke van dramatiese talent en bevat enkele mooi onderdele, terwyl dit as ’n poging om die gegewe te verafrikaans ook vars aandoen. Drinklied is in min woorde ’n treffende uitbeelding van die gevolge van ’n nag se gefuif. Veral die gedig Die begrafnis (’n aangrypende uitbeelding van verskillende begrafnisgangers en hulle reaksie op die dood van die gestorwene) word bekend en dit word dan ook opgeneem in Groot verseboek en (saam met ander gedigte) in Die Afrikaanse poësie in ’n duisend en enkele gedigte.

Versamelbundels

Sy gedigte word ook in verskeie ander versamelbundels opgeneem, insluitende Afrikaanse versameling, Uit ons digkuns, Digters en digkuns, Digterstemme, Digters en digsoorte, Digters op die toring, Miskien sal ek die wingerd prys, Verse vir Opperman, My Afrikaanse verseboek, Voorspraak” en Junior verseboek.

FAK-Volksangbundel

Hy lewer waardevolle werk vir die FAK-Volksangbundel, wat vir die eerste keer in 1937 gepubliseer word en waarvoor hy benewens verwerkinge uit ander tale ook ’n hele aantal oorspronklike liedere skryf. Hieronder tel liedjies wat sedertdien volksbesit geword het soos Die lied van jong Suid-Afrika, Goud en silwer en Die bootjie na Kammaland. Saam met Hugo

Gutsche publiseer hy in 1932 die liederebundel Lus en lewe: liedere vir studente, oud-studente en ander vrolike mense.

Drama

Sedert die middel van die dertigerjare spits hy hom toe op die drama en prosa. Sy eerste gepubliseerde drama is En hadde de liefde niet wat dikwels opgevoer is. Dit het die pas afgelope depressiejare as tema, waarin daar ’n toestroming na die stede is vir oorlewing, met die les dat ongetemperde geldsug en magsug tragiese resultate kan oplewer. Die weeskind Eugène Bartman werk hom op tot prokureur. Sy fokus is egter op materiële dinge en in sy magstrewe verneuk hy sy ondersteuner Wynand Wylbach en vertrap sy opregte vrou Cillie se liefde. Sy aksies lei tot sy vrou se ondergang voordat hy tot inkeer kom. Hierdie drama word so hoog aangeslaan deur die keurkomitee vir die Hertzogprys vir 1935 dat dit aanbeveel word vir gesamentlike bekroning met P.W.S. Schumann se Hantie kom huis toe en H.A. Fagan se Die ouderlinge en ander toneelstukke, met laasgenoemde wat eindelik die alleen bekroning ontvang.

Hierna skryf hy die ongepubliseerde dramas Die Vivierse en die Bibbejees en Erasmus se erfgename, asook die radiodrama Die vloek van 13 September. Die drama So praat die ou rivier is ’n vry verwerking van die Duitse drama Maria Magdalena van Christiaan Friedrich Hebbel, waarin hy die hooftrekke van die verhaal en enkele situasies behou het en vir die res digterlike vryheid gebruik het. Hierdie familiedrama speel af in Duitsland teen die middel van die negentiende eeu, wanneer die gildestelsel plek maak vir kapitalisme. Hy skryf die drama in versvorm, met die doel om dit so na as moontlik by die spreektaal te laat aansluit.[6][7]

Prosa

’n Fragment van die eselsromannetjie Jaffie verskyn eers in Die Huisgenoot en ’n uittreksel in Standpunte voordat dit in boekvorm gepubliseer word. Die boek is ’n samevoeging van sy eie jeugherinnerings van die Wes-Transvaalse plaaswêreld en godsdienstige ervarings rondom twee esels as sentrale figure, soos ingegee deur Middeleeuse Bybelprente. Die jong esel Jaffie word deur sy oom Vaaltyn opgevoed in die Christelike leer van liefde en lydsaamheid en leer by sy oom van Jesus se intog in Jerusalem op die rug van die esel Valta. Hy kry ook praktiese opleiding in die beste bekbyte en skoppe. Spanning word opgebou deur die vyandskap wat daar tussen oom Vaaltyn en Ribbok bestaan. Twee ontwikkelingslyne word volgehou, naamlik die geleidelike aftakeling van oom Vaaltyn en daarnaas die ontwikkeling tot volwassenheid by Jaffie. Wanneer oom Vaaltyn op Kersdag deur ’n weerligstraal gedood word, verower Jaffie die eselleiding in ’n geveg met Ribbok. So bereik hy volwassenheid en kan hy die lewe sonder sy mentor tegemoetgaan. Benewens die sjarmante verhaal en vertelstyl lê die bekoring in die soomlose ineenvlegting van diverse bestanddele, soos die epiese en moralistiese, die historiese en legendariese en ook die profane en die gewyde. Die dierekarakters verkry besondere trefkrag en oom Vaaltyn bekoor met sy pittige spreekwoorde waarmee hy oerwaarhede verwoord. Al hierdie elemente verhef die boekie tot leesstof vir oud en jonk. Hierdie verhaal het reeds klassiek geword in Afrikaans en word ook in onder andere Xhosa vertaal. Rob Antonissen beskryf dit in sy resensie soos volg: “Hy het iets nuuts gebring in die mees onvervalste Afrikaans, fyn en lewend in elke vesel".[8] Jaffie is in 1957 ’n sterk aanspraakmaker op die Hertzogprys, wat eindelik aan Elise Muller se Die vrou op die skuit toegeken word. In 1959 word die Afrikaanse Letterkundige Vereniging se prys vir jonger prosa aan Eitemal toegeken, hoofsaaklik op grond van Jaffie, maar ook met inagneming van sy verdienste as digter en dramaturg.

Skaduwees teen die muur bevat ’n aantal sketse en kortverhale wat hy reeds sedert die jare dertig geskryf het, dikwels teen ’n Wes-Transvaalse agtergrond. Die bundel word dan ook ingelei deur Uit my kontrei, sy jeugherinneringe oor hierdie wêrelddeel. Die verhaal Die pontbaas van Dieprusrivier is die hoogtepunt in die bundel en beïndruk met sy simboliek. Die rivier is die skeiding tussen die dorpsdeel met die kerk en die deel met die hotel en kroeg, sodat die pontbaas teen die einde ’n Charon-figuur word. Hierdie verhaal word deur Abraham H. de Vries in die versamelbundel Uit die kontreie vandaan opgeneem. Sy kortverhaal Oom Sybrand se tweede offer word in Halfeeu opgeneem, waarin P.G. du Plessis hoogtepunte uit die eerste vyftig jaar van Die Huisgenoot saambundel. Oom Sybrand se eerste offer was om op te hou pruim toe die tabaksop sy snor vlek. Sy baard was sy grootste trots. Sannie se kêrel, Daniel de Bruin, wil toe weet of die oom met sy baard bo of onder die kombers slaap. Hierdie vraag kon hy nie antwoord nie en daardie nag kon hy ook nie slaap nie, want geeneen van hierdie maniere voel reg nie. Dan bring hy sy tweede offer om sy baard af te sny. Gee my ’n bod vir ’n eseltjie is ’n humoristiese verhaal van die twee deftige dames wat sommer groot wil kollekteer vir die kerk se nuwe orrel by oom Thys Vermeulen, die rykste man in die distrik. Hulle is baie verontwaardig wanneer hy ’n brandsiek esel skenk, maar by die kerkbasaar sorg dieselfde esel dat die beoogde som vir die orrel bereik word. Hierdie verhaal word deur A.P. Grové in Hoogtepunte in die Afrikaanse verhaalkuns opgeneem en deur F.E.J. Malherbe in Moderne Afrikaanse verhaalkuns, terwyl Oom Habakuk se derde vrou deur Hennie Aucamp in die bundel Blommetjie gedenk aan my opgeneem word. Die skets Den Haag verskyn in Stad en stedelig, ’n versamelbundel met sketse en vertellings oor wêreldstede. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) publiseer sy toespraak Die patroon van ons volkskarakter wat hy op 28 Maart 1952 in Stellenbosch voor die publiek en studente lewer tydens die drie eeu feesvieringe van die aankoms van Jan van Riebeeck.

Vertalings en verwerkings

In sy later jare hou hy hom hoofsaaklik besig met vertalings en verwerkings uit die klassieke Europese letterkunde. Vir sy werk as vertaler van Shakespeare se Macbeth ontvang hy in 1966 die Akademieprys vir Vertaalde Werk. Hierdie vertaling word in 2013 deur Marthinus Basson verwerk vir nege akteurs en by Aardklop opgevoer, waar die Afrikaans weer beïndruk met sy soepelheid en die opvoering met talle pryse bekroon word. Eitemal vertaal ook Shakespeare se Hamlet, Midsomernagdroom en Die wintersprokie[9][10]. Die Akademieprys vir Vertaalde Werk word in 1969 weer aan hom toegeken vir sy vertaling van Goethe se Faust. Sy vertalings van Voorlopige vonnis van Jozef van Hoeck en Don Carlos van Friedrich von Schiller word deur Dalro gepubliseer, maar sy verwerking van Michiel de Swaen se De gecroonde leersse is nie gepubliseer nie.

Die Middelnederlandse Van den Vos Reynaerde verwerk hy in versvorm en verplaas dit onder die titel Reinaard die jakkals na ’n Wes-Transvaalse milieu. Hy doen hier nie slegs bloot ’n vertaling nie, maar verwerk die Middeleeuse stof en voeg ook talle plaaslike Jakkals-en-wolfstories in versvorm by. In hierdie diere-epos word Reinaard die jakkals deur een na die ander dier voor koning Leeu aangekla. Die satire op die Middeleeuse Staat en Kerk word uitgebrei sodat dit ’n gespot word met Suid-Afrikaanse werklikhede soos apartheid, ontug, oproerige politieke vergaderings, verkramptes, sensuurrade en dies meer.[11][12][13][14] Fragmente van hierdie werk het reeds voorheen in Verse vir Opperman (1974) en die Mei 1979 uitgawe van Tydskrif vir Letterkunde verskyn.

Eerbewyse

In 1981 vereer die FAK Eitemal vir sy lewenslange toewyding aan die Afrikaanse volkslied. Die voorsitter van die FAK, Gawie Cillié, huldig Eitemal by hierdie geleentheid as die enigste oorlewende lid van die driemanskap (die ander twee is Hugo Gutsche en Stephen Eyssen) wat verantwoordelik was vir die eerste verskyning van die FAK-Volksangbundel in 1937. Die idee vir so ’n bundel het ontstaan na ’n lesing in 1931 van Eitemal getiteld Kulturele betekenis van die volkslied tydens die tweede kongres van die FAK in Kaapstad.

Oorspronklike werke

Sy oorspronklike werke:[15]

  • Weerklankies, Pretoria, J.L. van Schaik, bepk., 1928.
  • Lus en lewe : liedere vir studente, oud-studente en ander vrolike mense, Pretoria : De Bussy, 1932.
  • En hadde de liefde niet … : drama in vyf bedrywe, Bloemfontein, 1935.
  • Jaffie; 'n eselsromannetjie, Kaapstad, Balkema, 195-?
  • Stafie en Santie in kabouterland : 'n kinderverhaaltjie, Kaapstad : Maskew Miller, 195-?
  • Die patroon van ons volkskarakter, Johannesburg : F.A.K., 1952.
  • Ujafi : indatshana yezimbongolo, Johannesburg : A.P. B., 1953
  • So praat die ou rivier, Kaapstad, Nasionale boekhandel, 1956.
  • Reinaard, die jakkals : 'n Afrikaanse diere-epos, Johannesburg : Perskor, 1981.

Vertalings

Werke wat hy na Afrikaans vertaal het:[15]

Bibliografie

  • Eitemal : 'n bibliografie, M E J Bauermeister, Stellenbosch : Universiteit van Stellenbosch, Departement van Biblioteekkunde, 1969.

Bronnelys

Boeke

  • Antonissen, Rob. Die Afrikaanse letterkunde van aanvang tot hede. Nasou Beperk Elsiesrivier. Derde hersiene uitgawe. Tweede druk, 1964
  • Antonissen, Rob. Kern en tooi. Nasou Beperk. Eerste uitgawe Eerste druk. Elsiesrivier 1963
  • Askes, H. en Landman, J.N. (samestellers) Voorspraak. Tafelberg-Uitgewers Beperk. Kaapstad. Eerste uitgawe Tiende druk, 1994
  • Beukes, W.D. (red.) Boekewêreld: Die Nasionale Pers in die uitgewersbedryf tot 1990. Nasionale Boekhandel Bpk. Kaapstad. Eerste uitgawe eerste druk, 1992
  • Buning, Tj. Uit ons digkuns. J.L. van Schaik Bpk. Pretoria. Nuwe omgewerkte druk, 1960
  • Cloete, T.T. (red.) Die Afrikaanse literatuur sedert sestig. Nasou Beperk. Eerste uitgawe, 1980
  • Dekker, G. Afrikaanse Literatuurgeskiedenis. Nasou Beperk. Kaapstad. Elfde druk, 1970
  • Grobler, Hilda. Halfeeu. Blokboeke 33 Academica. Pretoria en Kaapstad. Eerste uitgawe, 1980
  • Grové, A.P. Letterkundige sakwoordeboek vir Afrikaans. Nasou Beperk. Vyfde uitgawe. Eerste druk, 1988
  • HAUM. Stellenbosse Galery. HAUM-Uitgewers. Kaapstad en Pretoria, 1974
  • Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 1. Academica, Pretoria en Kaapstad. Tweede druk, 1984
  • Kannemeyer, J.C. Geskiedenis van die Afrikaanse literatuur 2. Academica, Pretoria, Kaapstad en Johannesburg Eerste uitgawe Eerste druk, 1983
  • Kannemeyer, J.C. Ontsyferde stene. Inset-Uitgewers. Stellenbosch. Eerste uitgawe. Eerste druk, 1996
  • Kannemeyer, J.C. Die Afrikaanse literatuur 1652–2004. Human & Rousseau. Kaapstad en Pretoria. Eerste uitgawe, 2005
  • Krige, Uys (red.) Afrikaanse versameling. A.A.M. Stols Uitgevers-maatschappij Maastricht. Eerste uitgawe, 1937
  • Lindenberg, E. (red.) Inleiding tot die Afrikaanse letterkunde. Academica. Pretoria en Kaapstad. Vierde uitgawe. Eerste druk, 1973
  • Malherbe, F.E.J. Aspekte van Afrikaanse literatuur. Nasionale Pers Bpk. Kaapstad, Bloemfontein en Port Elizabeth. Eerste uitgawe, 1940
  • Nasionale Pers Beperk. Ons skrywers en hul werke: ’n Plate-album. Nasionale Pers Bpk. Kaapstad, 1936
  • Nienaber, P.J., Roodt, P.H. en Snyman, N.J. (samestellers) Digters en digkuns. Perskor-Uitgewers. Kaapstad. Vyfde uitgawe. Sewende druk, 2007
  • Nienaber, P.J. Die Hertzogprys Vyftig Jaar. Nasionale Boekhandel. Kaapstad. Eerste uitgawe, 1965
  • Nienaber, P.J. Hier is ons skrywers! Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg. Eerste uitgawe, 1949
  • Nienaber, P.J,; Senekal, J.H en Bothma, T.C. Mylpale in die geskiedenis van die Afrikaanseletterkunde. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Tweede hersiene uitgawe, 1963
  • Nienaber, P.J. et al. Perspektief en Profiel. Afrikaanse Pers-Boekhandel. Johannesburg. Derde hersiene uitgawe, 1969
  • Opperman, D.J. Digters van Dertig. Nasou Beperk. Kaapstad. Eerste druk, 1953
  • Opperman, D.J. Junior verseboek. Nasionale Boekhandel Beperk. Kaapstad. Agste druk, 1960
  • Opperman, D.J. Verspreide opstelle. Human & Rousseau. Kaapstad en Pretoria. Eerste uitgawe, 1977
  • Pienaar, E.C. Taal en poësie van die Twede Afrikaanse Taalbeweging. Nasionale Pers Beperk Kaapstad, Stellenbosch en Bloemfontein. Vierde vermeerderde druk, 1931
  • Van Coller, H.P. (red.) Perspektief en Profiel Deel I. J.L. van Schaik-Uitgewers Pretoria Eerste uitgawe, 1998

Tydskrifte en koerante

  • Botha, Amanda. Eitemal se pen is nog nie droog nie. Die Transvaler, 25 Junie 1981
  • Coetzee, A.J. Enkele aspekte van ‘Jaffie’. Klasgids. Jaargang 2 no. 3, Februarie 1967
  • Prins, M.J. ’Hoogtepunte in die Afrikaanse verhaalkuns’ byeengebring deur A.P. Grové. Tydskrif vir Letterkunde. Jaargang 24 no. 1, Februarie 1986
  • Snijman, F.J. Willem Jacobus du Plooy Erlank. Jaarboek van de Maatschappij der Nederlandse Letterkunde te Leiden 1984–1985.
  • Venter, Leona. ’Is iemand dood? En wie was… hy?’ Tydskrif vir Geesteswetenskappe. Jaargang 24 no. 4, Desember 1984

Internet

Verwysings

  1. Rademeyer, Alet (25 Oktober 2012). "'Klipouma' kon jas, skoene koop". Beeld. Besoek op 26 Oktober 2012. 
  2. 2,0 2,1 2,2 Geni: [www.geni.com]
  3. Esaach: [www.esaach.org.za]
  4. 4,0 4,1 4,2 Esat: [esat.sun.ac.za]
  5. Stellenbosch Writers: [www.stellenboschwriters.com]
  6. Antonissen, Rob. Standpunte, Nuwe reeks 19 Januarie/Februarie 1958
  7. Antonissen, Rob. Kern en tooi. Nasou Beperk Eerste uitgawe Eerste druk Elsiesrivier 1963
  8. Antonissen, Rob. Standpunte. No. 31, Maart 1954
  9. Spangenberg, D.F. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 14 no. 2, Mei 1976
  10. Brink, André P. Rapport, 15 Junie 1975
  11. Beneke, Hannes. Die Transvaler, 29 Maart 1982
  12. Grové, A.P. Tydskrif vir Letterkunde. Nuwe reeks 19 no. 3, Augustus 1981
  13. Winterbach, Babsie. Die Transvaler, 26 Oktober 1981
  14. Brink, André P. Standpunte. Nuwe reeks 161, Oktober 1982
  15. 15,0 15,1 Digitale bibliotheek voor Nederlandse Letteren: [www.dbnl.org]